Bosch Haarsalon vier 4de bestaansjaar!

deur Elmarine Anthony

Bosch Haarsalon Personeel

Hulle het ‘n tipe besigheid begin waarvan daar reeds talle in Stellenbosch is. ‘’Dis ‘n baie kompeterende bedryf. Hier is te veel haarsalonne in die dorp,’’ erken Mellisa Charles, een van die eienaars van Bosch-haarsalon in Beyerstraat (langs Eikestad-winkelsentrum).

Met harde werk en deursettingsvermoë het Charles van Idasvallei en mede-eienaar, Denielle Okkers van Jamestown, egter ‘n sukses van hul salon gemaak. Hulle vier op 18 Mei hul vierde bestaansjaar.

Charles en Okkers het onderskeidelik vir 23 en 25 jaar in dieselfde plaaslike haarsalon gewerk voordat hulle besluit het om die geleentheid om hul eie salon oop te maak, met albei hande aan te gryp. ‘’Dít is ‘n baie goeie spot omdat hier altyd baie mense verbyloop en dis hoekom ons gevoel het liewer hier of nêrens. Dis lekker sentraal en toeganklik,’’ vertel Okkers.

Die besigheid het vinnig suskes behaal omdat die meerderheid van Okkers se kliënte haar gevolg het na die nuwe salon. Sy het baie goeie verhoudings met haar kliënte tydens die 25 jaar by haar vorige werkplek opgebou. Dit het so goed gegaan dat hulle slegs twee maande ná die salon se opening in staat was om nog ‘n haarstilis aan te stel en slegs ‘n paar maande later nóg ‘n aanstelling kon maak. Vandag is daar vier haarkapsters – almal van Stellenbosch of omliggende gebiede insluitend een van Klapmuts.

‘’Ons het hard gewerk en dis hoe ons so vinnig gegroei het,’’ vertel Okkkers.

Bosch Haarsalon voor opknappingswerk

Hulle sê indien dit nie vir die nasionale inperking weens die Covid-19-pandemie was nie, sou hulle vandag verder in die besigheid gewees het. Persoonlikesorgdienste soos salonne was vir byna drie maande verlede jaar verbied om dienste te lewer. Net voor die inperking het hulle besluit om die salon uit hul eie sakke op te knap onder meer deur die wasbakke en toonbanke te vervang, vloere oor te doen en groot spieëls te laat installeer. ‘’Net toe ons voort wou gaan, toe kom die lockdown. Ons was vir maande sonder inkomste. Gelukkig kon ons werkers UIF kry. Ons het dit oorleef,” sê Okkers.

Bosch Haarsalon na opknappingswerk

Charles vertel voorts: ‘’Ons moes steeds ons volle huur betaal, maar ons verhuurder was gaaf genoeg om April se huur af te skryf omdat ons ‘n maand vooruit betaal. Toe ons weer oopgemaak het, moes ons reëlings tref om die ander maande se huur af te betaal. Ons het hard gewerk sodat ons al daardie maande kon inhaal.’’

Hulle sê vandag is die besigheid stabiel, maar hulle is nog nie waar hulle wil wees nie. ‘’Ons is amper waar ons voor lockdown was. Indien ons vir daardie maande gewerk het, was die geld om ons huur in te haal, geld wat ons sou gehad het. Ons is egter amper daar,’’ sê Charles.

Een van die belangrikste aspekte vir die besigheid se voortbestaan is om nuwe klënte te kry. ‘’Ons kry byna elke dag ‘n nuwe kliënt. Jy kan nie net staatmaak op jou gereelde kliënte nie. Word of mouth is baie belangrik en ons gebruik hoofsaaklik Facebook vir bemarking.

Okkers en Charles is op hul gelukkigste wanneer hul kliënte tevrede is. ‘’Dis een van die belangrikste aspekte van ons besigheid en dit maak ons bly wanneer ons kliënte gelukkig is. Dis baie belangrik om na jou kliënte te luister. Jy moet weet hoe om die situasie te hanteer wanneer hulle ontevrede is. Ons sê altyd vir ons kliënte: ‘As jy ontevrede is, vertel ons sodat ons die geleentheid het om dit reg te stel. Ons vra altyd vir hulle of hulle gelukkig is en kan sien wanneer dit nie die geval is nie.’’

Charles erken dis ‘’baie moeilik’’ om ‘n vrou te wees en jou eie besigheid te het. ‘’Dis nie maklik nie, want jy het kinders en ‘n huishouding om ook te bestuur. Dit vat baie van jou energie,” vertel die ma van drie, waarvan twee ‘n driejarige tweeling is.

Benewens dít was dit ook ‘n uitdaging om dinge soos belasting, die besigheid se registrasie en UIF vir hul werkers uit te sorteer. ‘’Daar het elke keer iets bygekom, maar ons het ‘n werkswinkel vir klein besigheidseienaars deur die Kaapse Wynland Distriksmunisipaliteit bygewoon. Ons woon gereeld werkswinkels by.’’

Hulle glo dit is belangrik om terug te gee aan die gemeenskap. Daarom het hulle sedert hul opening leerders van Dorothea Spesiale Skool en Laerskool Weber Gedenk die geleentheid gegun om hulle vir ‘n jaar lank te skadu. Hulle het nie tans leerders nie, weens Covid-19-regulasies. ‘’Ons het elke jaar iemand anders gevat ek hulle alles geleer oor wat ‘n mens in ‘n salon doen. Ons mis dit baie.’’

Die dames het nou weer hul opknappingswerk hervat.

Hulle sê hulle is dankbaar vir al die onderteuning wat hulle oor die afgelope vier jaar ontvang het. ‘’Dankie aan ons kliënte wat ons so mooi ondersteun. Sonder hulle sou ons dit nie kon maak nie. Dankie ook aan ons families, want jy moet ‘n goeie ondersteuningstelsel van jou familie het om ‘n sukses van jou besigheid te kan maak.’’

4de Herdenkingsjaar Spesiale Aanbiedinge!

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *