Woorde: Elsabe Retief

Hulp en hoop.

Dit is wat Stellenbossers aan hul medemens gebied het toe Covid-19 die land en ook Stellenbosch in ‘n gesondheids- en finansiële ramp gedompel het.

Feitlik oornag is talle mense sonder werk, inkomste en kos gelaat. 

Maar  terselfdertyd het ‘n uitreik-aksie, Stellenbosch Unite, gekoördineer deur Jeaneret Momberg van Visit Stellenbosch, ontstaan wat maatskaplike hulp gebied het aan behoeftige inwoners van Stellenbosch en sy e’Bosch-dorpies. Stellenbosch Unite is saamgestel uit die Stellenbosch-munisipaliteit, Universiteit Stellenbosch, Visit Stellenbosch, SCAN (Stellenbosch Civil Advocacy Network), wat die niewinsgewende sektor verteenwoordig en die Greater Stellenbosch Development Trust, wat as administrateurs vir die uitreik-aksie opgetree het.

Stellenbosch Voedingsaksie het ook ‘n kernrol gespeel in die beskikbaarstelling van voedselpakkies wat dan weer deur gemeenskapsorganisasies soos Stellcare (voorheen bekend as Kindersorg Stellenbosch), Usiko, Imbali, Stellenbosch-sokkerklub en Stellenbosch Polisie uitgedeel is. Hierdie organisasies het ook dikwels self kos gekoop, gekook en bedien.

e’Bosch-erfenisprojek se jaarlikse hoogtepunte in Erfenismaand soos die Skoolkoorfees en ander aksies in die dorpies moes weens die streng inperkingsmaatreëls op die lange baan geskuif word. Vrywilligers van e’Bosch en diegene wat die e’Bosch-leierskapskursusse deur die jare heen meegemaak het, het egter self bydraes gelewer tot die grootse hulp-aksie in die geskiedenis van Stellenbosch. 

Woonbuurte, kerke, besighede, supermarkte en restaurante het ook ingespring om ‘n verskil te maak. Bertus Basson, ‘n bekende in die restaurantwêreld, het Jamestowners van onder meer sop voorsien, en so het George en Louise Jardine van Jordan en Jardine-restaurantfaam en ook Genki-restaurant, vir die Stellenbosch-sokkerklub bygestaan met koskook en bediening in die gemeenskappe. Met geld wat geskenk is aan Stellenbosch Unite en Stellenbosch Voedingsaksie, is droë bestanddele soos soppoeier, meel, rys en skoonmaakmiddels aangekoop en uitgedeel. Die plaaslike boere het ook nie op hulle laat wag nie en het vragte vrugte en duisende eiers geskenk. 

Soos die inperkingstyd verdiep het, is weldoeners al hoe meer met leë kosblikkies en al hoe langer rye van honger mense gekonfronteer. Kinders op plase kon byvoorbeeld nie sonder skoolbusvervoer by die skole kom nie waar plaaslike skole dwarsdeur die inperkingstyd steeds voortgegaan het om kos aan leerders te bied. So het die Stellenbosch Polisie onderneem om plaaskinders na skole te vervoer om hul daaglikse maaltyd op te tel! Individue soos Lynette Phillips het deur Kylemore se strate gery om kos wat sy en ander vrywilligers gekook het, uit te deel, Chalmane Kruger in Klapmuts en Norah Tobo in Kayamandi het hul huise in stoorplekke en sopkombuise verander en Elwin September het op 60-jarige leeftyd deelgeneem aan ‘n voedingsaksie in Jamestown ten spyte van ‘n gesondheidsrisiko.

Dit is onmoontlik om erkenning aan die duisende vrywilligers te gee wat so mildelik van hul tyd en energie gegee het om na ander om te sien. So ook is dit moeilik om die omvang van hierdie enorme uitreik-aksie te meet. Wat ons wel weet is dat daar verseker miljoene geskenk, berge toebroodjies gemaak, duisende potte sop gekook en komberse en klere ingesamel is wat letterlik as “strome van seën van bowe” deur behoeftiges ervaar is.

Die mensdom het dikwels ‘n ramp nodig om uiting te gee aan ons innerlike deernis en onbaatsugtigheid en hier was Stellenbossers die afgelope ses maande geen uitsondering nie. e’Bosch en al sy dorpies staan eenvoudig stom ten aanskoue van die omvang van al hierdie skenkings, die vrywillige diens gelewer deur honderde Stellenbossers en nog treffender, hoe arm mense ander gehelp wat nog swaarder gekry het as hulself. En steeds gee en gee . . . 

Om mense uit te sonder in sulke tye is feitlik onmoontlik. Tog het e’Bosch dit goedgedink om die publiek te vra om organiseerders of vrywilligers te nomineer wat na hul mening ‘n bydrae gelewer het tot hulpverlening  en wat saamgewerk het aan ‘n e’Bosch-doelwit, die skep van ‘n nuwe gedeelde erfenis vir Stellenbosch. 

E’Bosch huldig dus die volgende mense wat saam met ander vrywilligers ‘n verskil gemaak het in Covid-19-tyd in Stellenbosch:

Asiphe Cosa, Anna en James Pietersen, Avril van der Rheede, Chalmane Kruger, Charmaine Anthony, Dinah Claassen, Elwin September, Hajiera Arnolds en Warda Gezwint, Karin Viviers, Liesel Koen, Lynette Phillips, Magdalene Blanckenberg, Maria Fredericks, Marissa Truter, Mervan Heswick, Nicky du Toit, Nicolette Smith, Norah Tobo, Samuel Kruger, Shereleen Layman, S A Polisie Stellenbosch, Stellenbosch Football Club, Thompson Kamanga, Vinton Morgan en Winston Zuze.

Groepfoto geneem deur Francois Lombard
Warda Gezwint & Hajiera Arnolds met hul sertifikaat. Foto: Carol Lakay

GPF Hoof Belinda van Rooyen, Sersant Jason Rhoda, Kaptein Natalie Martin, Sersant Allister Maraj en e’Bosch Direkteur Dr. Sias Mostert by oorhandiging van SAPD sertifkaat. Foto: Carol Lakay
Maria Fredericks van Cloetesville ontvang haar sertifikaat. Op die foto met haar is Mr. Roy vanaf Rooyen, e’Bosch onder-voorsitter, Raadslid Esther Groenewald en Dr. Sias Mostert, e’Bosch Direkteur. Foto: Francois Lombard

Contact e’Bosch by www.ebosch.co.za

or info@ebosch.co.za