Niklaas & Juanita Willemse – ‘n Besigheids-suksesverhaal uit die hart van Cloetesville, Stellenbosch.

deur Elmarine Anthony

In Januarie 2017 het Niklaas Willemse bedank uit sy permanente werk waar hy R18 000 per maand verdien het, om vyf lesse teen R750 aan een leerlingbestuurder te gee.

Dít is hoe Willemse, van Cloetesville, heeltyds op Niklaas and Nita’s Driving School begin fokus het tot waar dit vandag ’n suksesvolle besigheid is.

Sedert hy in 2009 sy lisensie gekry het, was dit sy droom om ’n bestuursinstrukteur te word. Die volgende jaar het hy as ’n bestuurder by ’n patologiediensmaatskappy in Goodwood begin werk. “Ek wou ’n bestaande koeriersbesigheid koop, maar het nie die finansies gehad nie.’’

In 2015 het dinge finansieel swaar gegaan. Willemse het ’n nuwe voertuig gekoop omdat hy baie oortyd gewerk het, maar toe die oortyd opdroog, moes hy los werkies kry om brood op die tafel te sit en petrol in sy kar te gooi. Hy het soggens van 06:00 tot 16:00 sy permanente werk gehad en 17:00 moes hy terug wees in Stellenbosch om tot 22:00 as petroljoggie by Caltex op die hoek van Merrimanlaan en Birdstraat te werk. Voorts het hy ook Sondae by Debonairs in Die Boord gewerk. “Dit was ’n stryd, maar ek het vir twee jaar so aangegaan.’’

Intussen het hy egter beplanning vir sy besigheid begin doen. “Ek het die naam uitgekies, myself in die besigheid gesien en alles neergeskryf.’’

Hy vertel hoe hy een Sondagmiddag ná kerk verby die petrolstasie in Cloetesville gery het terwyl iemand ’n ry-les gekry het. “Ek het gekyk en het nie gehou van hoe die instrukteur vir hom wys hoe om sy parkering te doen nie. Ná kerk het ons hoekal by hierdie leerling se ouers gebraai en geëet toe ek hom gaan wys hoe ek geleer het. Hy het gevind my manier is baie maklik. Ek het vir hom my kar gegee om daarmee uit te passeer.

“Ek het gebid oor die saak en vir die Here gesê as hy sy lisensie slaag, weet ek ek moet hierdie besigheid aanpak. Toe hy ingaan, vra hy of hy vir my enigiets moet gee. Ek het gesê ‘nee, bring net vir my ’n lisensie. Dis al’. Hy het geslaag en van toe af het die Here bevestiging gegee dat ek die bestuurskool moet begin.’’

Willemse, wat ook al voorheen as ’n Tuk-Tuk-bestuurder gewerk het, het toe die ryskool begin, maar dit deeltyds gedoen. Sy vrou, Juanita (beter bekend as Nita), was bekommerd toe hy uit sy voltydse werk wou bedank. “Ek moes ’n keuse maak. Daar was ’n leerling wat by my begin het wat ’n toetsdatum gehad het en vyf lesse wou hê. Ek kon nie aanhou met werk én vir haar help nie.”

“My vrou het daardie aand by die huis gesê die Here het klaar met haar gepraat en gesê ek kan maar die werk los,’’ vertel Willemse wat byvoeg dat hulle nog in daardie stadium skuld gehad het.

Hy het die volgende dag sy bedankingsbrief ingedien. “Dis hoe die besigheid voltyds ontstaan het.’’

Volgens Willemse was dit aanvanklik moeilik om die besigheid aan die gang te kry, omdat die meeste van die geld wat hy vir die lesse gevra het, vir petrol gebruik is. “Dit was ’n uitdaging, maar mettertyd het dit beter geword.

“Ek doen altyd my bes sodat die persoon sy lisensie moet kry. Mense vra my gereeld wat my slaagsyfer is. Ek sê altyd jou slaagsyfer lê gewoonlik by die leerling self. Wanneer jy slaag, maak jy vir my 100 persent, maar ek kan nie sê ek het ‘n 100 persent slaagsyfer nie.’’

Willemse erken daar is soms moeilike tye wanneer die meerderheid leerlinge druip. “Jy kry daai seisoene waar nie almal slaag nie en waar nie almal druip nie. Ons werk met beginners – mense wat nou net hul leerlinglisensies gekry het. Ouderdom maak nie ’n verskil nie,’’ vertel Willemse wie se oudste vroulike student 66 jaar en oudste manlike student 59 jaar oud was.

Hy sê geduld is een van die belangrikste eienskappe waaroor ‘n bestuursinstrukteur moet beskik. “Jy moet rustig wees. Mense kan voel wanneer jy nie geduldig met hulle is nie. As die persoon nie na die volgende les kom nie, moet jy weet daar is iets fout.’’

Hy meen ook instrukteurs moet ’n passie hê om met mense te werk en sielkundig ingestel wees op jou kliënte. “Selfs wanneer dit stresvol is, kan jy nie vir die persoon wys jy stres nie, want hulle is reeds vol stres wanneer hulle eers begin. Hulle weet nie wat van hulle verwag word nie, maar jy as instrukteur weet, so jy moet rustig en kalm wees. Byvoorbeeld praat oor die kar voor hulle begin, maak ’n praar grappies en dies meer. Hulle moet kan uitsien na die volgende les.’’

Weens Covid-19 het die bestuurskool vir ses maande geen inkomste gehad nie, maar sy vrou het tydens die inperking voortgegaan om as ’n versorger te werk. Sy het onlangs as ’n instrukteur gekwalifiseer en is ook nou ten volle by die besigheid betrokke.

“Ons is in ’n gelukkige posisie dat die besigheid nou so gegroei het dat ons nou ook aanlyn leerlingklasse aanbied,’’ vertel Willemse.

Willemse is ’n gesinsman met drie kinders en drie kleinkinders.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *