Rykie deur Leatitia Solomons bekyk temas van familie, gemeenskap en geloof.

deur Elmarine Anthony

Aanhangers van plaaslike aktrise, Leatitia Solomons, kan hulle gereedmaak vir haar langste fliek nóg, Rykie, wat Woensdagaand op televisie te sien is.

Dít volg net meer as ‘n jaar ná haar kortfliek, Die Begrafnis, se benoeming vir ‘n Suid-Afrikaanse Fliek- en Televisieprys (Safta).

Solomons het nie net die draaiboek vir Rykie geskryf nie, maar is ook die mede-vervaardiger met Jaco Nothnagel, mede-regisseur saam met Johannes Pieter Nel en vertolk ook die hoofkarakter, Katriena (noemnaan Ketta).

Sy vertel sy het die fliek verlede jaar in die middel van die Covid-19-pandemie geskryf. Solomons, ‘n taxibestuurder wat ook bekendheid verwerf het vir haar program, Leatitia se Taxi op VIA TV DStv-kanaal 147, sê sy het baie tyd gehad om te dink tydens die pandemie omdat beide die taxi- en vermaakbedryf tot stilstand gekom het.

‘’Ek het baie gedink aan my kinderdae met my ouma en oupa omdat ek by hulle grootgeword het. Ek het ook gedink aan my tyd op die plaas (Goedemoed in Vlottenburg) en the good old days. Ek het net my ouma en oupa baie gemis en dit was my inspirasie om by my kinderdae te begin om daardie storie in ‘n fliek te deel.’’

Rykie, was haar ouma Rachel, se noemnaam na wie sy ook haar taxi vernoem het. Haar oupa, Steven, se noemnaam was Stevie. Die temas wat sy in die fliek aanpak sluit in familie, gemeenskap en geloof. Dit handel oor ‘n suksesvolle prokureur wat in Kaapstad werk wat vervreemd is van haar familie weens ‘n voorval wat in die huis plaasgevind het. Ná 10 jaar keer sy terug na die plaas waar sy grootgeword het. ‘’Dit gaan daaroor dat jy nie moet vergeet waarvandaan jy kom nie. Iets laat haar weer teruggaan na haar wortels dan ontdek sy weer haarself.’’

Solomons beskryf Rykie as ‘n ligte drama.

Sy sê sy skryf hoofsaaklik oor haar gemeenskap en haar persoonlike ervarings. ‘’Ek is van die plaas so dis waar die stories sal plaasvind wat uit my pen kom. Dís die wêreld wat ek verstaan en in die fliek gebruik ek hoofsaaklik die mense se regte name, soos my ouma Rykie en oupa Stevie, want dis hoe werklik dit is wanneer ek skryf. Ek sien regtig daai karakter.’’

Omdat sy die hoofkarakter vertolk gebruik Solomons nie haar regte naam nie. Ketta is die naam van haar oorlede niggie met wie sy grootgeword het en is dus baie spesiaal vir haar. ‘’Ons het soos susters by my ouma-hulle grootgeword. Ons was basies dieselfde persoon.’’

In die fliek is talle plaaslike talent sowel as groot name in die bedryf te sien. Dit sluit in kinders uit die gemeenskap wat Solomons onder haar vlerk geneem het soos Lenique Isaacs, ‘n oud-leerder van St. Idas R.K Primêr en Johnwin Constable en Qui-Lynn Rooi – albei leerders by Hoërskool Lückhoff in Ida’s vallei. Clayton Appolis en Christy Ann Julies van Cloetesville is ook in die fliek te sien sowel as Angelo en Hazel August van Ida’s vallei en Solomons se pa, Japie, wat ekstras is.

Voorts kan kykers na groot name in die fliek uitsien. Hulle is Royston Stoffels, June van Merch, Shimmy Isaacs, Marvin Lee Beukes, Brandon Daniels en Amalia Uys.  

Royston Stoffels en Lenique Isaacs
June van Merch
Shimmy Isaacs
Royston Stoffels

‘’Dit was ‘n absolute voorreg om met almal te kon werk. Ek het nooit gedink ek sou die skerm met een van my helde, June van Merch, deel nie. Dit is ‘n fantastiese cast en dit was ‘n voorreg om met mense van hulle kaliber te kon werk. Die span het die fliek moontlik gemaak. Op die einde van die dag kan ek ‘n fliek skryf, maar dis ‘n groep mense wat bymekaar gekom het om dit moontlik te maak.’’

Solomons vertel sy kan nie help as om aan haar silwerskerm debut te dink nie en oor hoe ver sy gekom het.

Sy onthou nog haar twee sinne in Die Boekklub 2 in 2018 asof dit gister was. ‘’Hulle wag vir juffrou in die personeelkamer. Hier is die kopieë waarvoor juffrou wag. Dis al wat ek gedoen het,” vertel sy.

‘’In Arendsvlei toe seën die Here my met heelwat meer as net twee lyne. Ná dit was dit Die Begrafnis wat 22 minute lank was. Nou seën die Here my met 50 minute. So hopelik gaan ek die derde keer Ster-Kinekor toe,’’ sê Solomons gevolg deur haar aansteeklike lag.

‘’Wie sou kon dink dat ek ná Die Begrafnis weer ‘n fliek sou kon doen en een waar ek ‘n langer storie kon vertel.’’

Rykie is plaaslik geskiet op Wolwedans Vineyards, Laerskool Vlottenburg waar Solomons skoolgegaan het, Skilpadvlei, Roulou-plaas en Mountain Breeze-plaas.

Rykie is Woensdagaand, 5 Mei om 20:00 op KykNET kanaal 144 te sien.

Datums van herhalings sal mettertyd deur Stellenbosch Magazine aangekondig word.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *