Woorde wat Vry Maak

BOEKVRYSTELLING: Woorde wat Vry Maak
Deur Gameeda Henry

Skrywers in alfabetiese volgorde is:
Eleanor Damon, Merle Danhouse, Madge du Preez, Petro Gordon, Dewald Jacobs, Gameeda Henry, Anne-Marie Lackay, Leonard Makay, André Smith en Remola Williams.

Deelnemers van ‘n kompetisie wat deur Dudu Xaba van Malmesbury gereël was, bekend as die Lockdown Siyabhala Pearson Kompetisie. Daar was onderafdelings in verskeie kategorieë met inagneming van die elf landstale. Vir die wenner van elke afdeling was daar prysgeld van R5 000, die tweede plek R3 000 en die derde plek R1 000.

Die tien finaliste van die Afrikaanse kortverhale groep, het spontaan na afloop van die virtuele prysuitdeling, wat deur Gameeda Henry van Stellenbosch gewen is, besluit om al hul kortverhale in boekvorm te sit. Derhalwe het die boek: WOORDE WAT VRY MAAK, die lig gesien en was op Sondag 18 Julie 2021, virtueel vrygestel. Die drie samestellers was Dr Eleanor Damon (skrywer), die befaamde digter en fasiliteerder, Diana Ferrus, en Gameeda Henry*, (digter en skrywer).

Dr Eleanor Damon vat die hele proses soos volg saam:
Op die sestiende Desember 2020 is die Pearson Skryfgroep op WhatsApp gestig wat later as die Sonneblommers bekend geword het. Ons groep het oor die tydperk van ses maande aanmekaar gegroei deur verskillende prosesse van skoling en ‘n soort van vuurproefdoop gegaan om uiteindelik ons kortverhale van 3 000 woorde elk aan die evalueerders van die kompetisie te kon stuur.

Tydens die zoomsessies het ons groep ondersteuning van ons mentor en van mekaar gekry. Almal kon nie altyd alle sessies bywoon nie, omdat hulle voltyds gewerk het. Die grootste waarde van die sessies was dat daar vir die eerste keer gekyk kon word na wat ‘n kortverhaal nou eintlik is. Ons moes oplees en kon ook ons ervaring van opstel-skryf met vrug gebruik.

Die individuele sessies was waar die diepgaande skoling plaasgevind het. Hier is die kreatiewe denke ontwikkel en gestimuleer, en ook verskillende opsies blootgelê. Die tergende vrae was altyd maar: Hoe gaan ons hierdie toegevoegde waarde tot ons menswees gebruik? Wat gaan word
van die samesyn? Wat gaan word van die verhale waaraan ons met soveel sorg geboorte gegee het?

Daardie vrae het gelei tot die gedagte om dit vas te vat in boekvorm. Op hierdie manier sal ons ons samesyn vier en vir altyd onthou.

Volgens Marlene Cloete, ‘n Afrikaanse hoërskool opvoeder van Stellenbosch en die boek se proefleser, is die boek ‘n prysenswaardige projek. “Elke verhaal word so oortuigend goed vertel dat dit geen leser onaangeraak sal laat nie. Ook kan ‘n mens kwalik glo dat dit ‘n eerste vir almal is”.

Remola, die jongste van die groep, sê dat die kortverhale wat vertel word, stories is waarmee ‘n mens jouself mee kan vereenselwig. Die boek spreek van alledaagse ervaringe, dinge wat rondom jou gebeur.

Dinge wat jy nie altyd wil erken nie, gevoelens wat jy nie wil voel nie, wat jy in ‘n mate wil vermy. Maar in die boek het elke skrywer dinge aangeraak wat jy nie meer wil wegsteek nie, nie meer wil ignoreer nie, maar wil aanspreek en op so ‘n manier weer hoop wil bring, want solank as wat daar hoop is, is daar ‘n uitweg.

Verhale handel oor gesinsgeweld, selfdood, maatskaplike probleme, die skade van verslawing aan die gesinslewe, politieke slagoffers, die kampuslewe vir ‘n tokkelok, armoede en die uitkoms wat ‘n nuwe werk bring, die verandering van die sosiale lewe tydens die Covid-19 pandemie en ‘n onverwagte geskenk en hoe ‘n kind oorleef te midde van bendegeweld.

*Indien enige persoon belangstel in ‘n eksemplaar teen R150, kontak vir Gameeda Henry by 082 722 2773.

Sy het ook ‘n vierde tweetalige bundel in digkuns vrygestel, twee weke voor die kortverhale boek. Getiteld A TRIP THROUGH LIFE IN POETRY / ‘N REIS DEUR DIE LEWE IN DIGKUNS neem jou op ‘n reis deur verskillende fassette van die lewe.

Die reis begin by die familiesirkel. Daarna jou werksplek, die getroude lewe, die effek van die pandemie, die lewe in die algemeen, aftrede en uiteindelik die dood, wat die einde van jou lewensreis simboliseer.

Die vrystelling was gedoen in ‘n tipiese “drive-by-Covid-19-styl”, waar sy gratis eksemplare afgelewer het vir haar oud-skoolhoofde en oud-onderwysers as geskenke as bewys van haar dankbaarheid vir hul positiewe insette in haar lewe.

Om Sir Otto van Noie aan te haal: “Thank you for the opportunity of sharing life’s rich experiences through that very peculiar prism of words through which we view, construct, reconstruct and bend the world outside to provide meaning to the world inside.

Sit gerus jou reis voort, and bring the world and the word together, in jou eie unieke idioom.”

Hierdie bundel is ook by haar beskikbaar teen R160 per kopie.

Fotos: Verskaf

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *